Lukas 11:1-6 Die Boodskap (DB)

1. Kort daarna het Jesus verder gereis. By een van die plekke waar hulle oorgebly het, het Hy gaan bid. Toe Jesus klaar gebid het, vra een van sy volgelinge Hom: “Here, leer ons asseblief ook om reg met God te praat. Weet U, Johannes die Doper leer sy volgelinge hoe om te bid.”

2. Jesus sê toe vir hom: “Hier is ’n voorbeeld van hoe julle met God moet praat: “Ons Vader, laat almal op aarde groot eerbied vir u heilige Naam hê. Laat u nuwe wêreld tog gou aanbreek.

3. Gee ons asseblief elke dag genoeg om van te leef.

4. Vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons almal vergewe wat nie reg teenoor ons optree nie. En help ons om nooit te swig voor versoekings nie.”

5. Daarna het Jesus vir sy volgelinge ’n verhaal vertel: “Stel julle die volgende toneel voor: ’n vriend kom onverwags in die middel van die nag by ’n man se huis aan. Hy staan toe dadelik op en nooi hom in. Hy wou vir sy vriend iets te ete gee, maar ontdek toe daar is nie ’n krieseltjie kos in sy huis nie. Hy stap toe gou oor na ’n ander goeie vriend van hom en klop hom wakker. ‘Ag, ek is verskriklik jammer om jou so laat in die nag lastig te val.

6. Maar ’n goeie vriend van my het uit die bloute daar by my aangekom. En my huis is dolleeg. Ek het nie ’n stukkie kos om hom aan te bied nie. Kan jy my nie met drie broodjies uithelp nie?’

Lukas 11