9. Hy het ook ’n hoed op Aäron se kop gesit en aan die voorkant daarvan ’n goue wapen vasgesteek, soos die Here hom beveel het.
10. Moses het toe die olyfolie gevat en daarvan aan die tent van ontmoeting gesmeer en aan alles wat daar binne-in was om dit aan die Here op te dra.
11. Hy het ook sewe maal daarvan teen die altaar gespat en die altaar saam met alles wat daaraan behoort, asook die wasbak wat daar staan en die voetstuk waarop dit rus met die olie gesmeer om dit aan God op te dra.
12. Hy het ook van die olie op Aäron se kop laat uitloop om hom so aan die diens van die Here te wy.
13. Moses het Aäron se seuns laat nader staan en ook hulle die spesiale hemde vir hulle dienswerk laat aantrek, hulle serpe vir hulle omgehang en hulle die kopbande laat opsit wat hulle moes dra wanneer hulle by die tent werk, soos die Here gesê het hy moet maak.
14. Toe het Moses die bul wat vir die sonde geslag moes word, nader gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op die bul se kop gesit
15. en dit is toe geslag. Moses het van die bul se bloed gevat en daarvan met sy vinger reg rondom aan die horings van die altaar gesmeer om dit aan die Here op te dra. Hy het ook van die bloed teen die onderkant van die altaar uitgegooi om dit aan God te wy sodat die offers wat daarop gebring word, vir die oortredings kon betaal.
16. Daarna het hy die hele vetlaag oor die binnegoed, die twee niere met die vet daaroor en die lewervet uitgesny en dit op die altaar verbrand.
17. Die res van die bul met sy vel, sy vleis en sy pensmis het Moses buite die kamp in die vuur gaan verbrand. Dit was soos die Here gesê het hy dit moet doen.
18. Die ram vir die brandoffer is toe nader gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op die ram se kop gelê.
19. Moses het dit geslag en die bloed daarvan aan alle kante teen die altaar uitgegooi.
20. Hy het die ram in stukke opgesny. Hy het die ram se kop, sy vleis en sy binnevet verbrand.
21. Nadat hy die binnegoed en agterpote met water afgewas het, het Moses dit wat van die ram oor was, op die altaar verbrand. Dit was ’n offer wat verbrand word wat vir die Here baie aanvaarbaar is. Dit was soos die Here Moses beveel het om te maak.
22. Toe is die tweede ram nader gebring. Die ram sou gebruik word om die dienaars by die tent in hulle werk aan te stel. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gesit.