Levitikus 5:6-10 Die Boodskap (DB)

6. Vir die oortreding wat hy begaan het, moet hy vir die Here iets bring om vir sy skuld te betaal. Vir sy sonde moet hy met ’n ooi uit sy kudde betaal, of met skape of met bokke. Die dienaar by die tent van ontmoeting sal met die dier vir sy sonde betaal en vir hom vergifnis vir sy sonde bring.

7. “As iemand nie een van hierdie diere kan bekostig nie, mag hy twee tortelduiwe of twee jong duiwe vir die Here bring om vir sy skuld te betaal. Die een duif betaal vir sy sonde. Die ander een is ’n offer wat vir die Here verbrand word.

8. Hy moet die twee duiwe vir die dienaar by die tent bring. Die dienaar offer die een wat vir die sonde is eerste. Hy draai sy nek om en knyp sy kop agter die nek af. Hy mag dit egter nie afskeur nie.

9. Die dienaar spat van die bloed van die duif teen die kant van die offerplek. Die bloed wat oor is, druk hy teen die voet van die altaar uit. Dit is dan ’n offer vir die sonde wat die persoon gedoen het.

10. Die tweede duif verbrand hy volgens die voorskrifte wat vir hom gegee is. So bring die dienaar by die tent vir die man vrystelling van die oortreding wat hy begaan het. God vergewe hom.

Levitikus 5