Levitikus 13:43-57 Die Boodskap (DB)

43. Die dienaar moet dit ondersoek. As daar ’n rooierige uitslag op sy kop is wat soos ’n velsiekte lyk,

44. is hy aangetas en moet hy homself beslis uit die gemeenskap verwyder. Die dienaar moet uitdruklik verklaar dat die seer op sy kop hom onaanvaarbaar vir die gemeenskap gemaak het.

45. Die persoon wat met die velsiekte aangetas is, moet stukkende klere dra en nie sy hare kam of was nie. Hy moet die onderkant van sy gesig met iets toemaak en uitroep: ‘Ek mag nie by ander mense bly nie, ek mag nie in aanraking kom met ander mense nie!’

46. So lank as wat hy die velsiekte het, moet hy eenkant gaan bly. Hy moet alleen buitekant die kamp in sy eie blyplek bly.”

47. “Wanneer daar muf op klere kom, of die klere nou van wol of linne gemaak is,

48. of die muf nou voorkom in die garing van die linne of op wol of op leer of enigiets wat van leer gemaak is

49. en daardie mufplek op die klere is vaalgroen of rooierig, kan dit gevaarlik wees. Dit moet vir die dienaar by die tent gewys word.

50. Hy moet baie goed na die mufkol kyk en die ding waarop dit is vir sewe dae gaan wegbêre.

51. Op die sewende dag moet hy dit gaan haal en weer daarna kyk. As die muf op die klere, of in die garing, of die materiaal, of op die ding wat van leer gemaak is, in daardie tyd meer geword het, is dit besmetlike muf. Dit moet verwyder word.

52. Hy moet die klere, of garing, of materiaal van wol of linne of leer waarop dit voorkom, in die vuur verbrand. Dit is gevaarlike muf.

53. Wanneer hy egter daarna kyk en sien dat dit nie meer geword het nie,

54. moet hy die klere laat was en vir nog sewe dae eenkant hou.

55. As hy daarna sien dat die muf nog steeds nie verdwyn het nadat dit gewas is nie, selfs al het dit ook nie meer geword nie, moet dit weggegooi word. Dit moet in die vuur verbrand word. Dit is heeltemal besmet, of dit nou net aan die bo- of net aan die onderkant is.

56. As hy egter sien dat die mufkol ligter geword het nadat dit gewas is, moet hy die gedeelte waarop die mufkol is, uitskeur uit die klere, of die vel, of die garing, of die materiaal.

57. As daar weer ’n kol op die klere of in die garing, of die materiaal of die leer kom, het die muf weer begin groei. Die klere waarop dit voorkom, moet in die vuur verbrand word.

Levitikus 13