30. en dit vir die dienaar lyk of dit dieper as die vel is en daar koperkleurige dun haartjies in die wond is, moet hy die persoon wegstuur. Dit is ’n kwaai velsiekte van die kop of die ken.
31. Wanneer hy die veluitslag ondersoek en dit lyk vir hom of dit nie dieper as die vel is nie en daar is nie swart haartjies in die wond nie, moet hy die geval met die velaandoening vir sewe dae in isolasie plaas.
32. Wanneer hy weer op die sewende dag na die uitslag kyk en dit nie lyk of dit versprei het nie, die hare daarin nie koperkleurig geword het nie en dit nie dieper as die vel geword het nie,
33. moet die persoon se hare afgeskeer word. Die hare in die aangetaste deel moet egter net so bly. Die dienaar sonder die persoon vir nog sewe dae af.
34. Op die sewende dag bekyk hy weer die veluitslag en as dit nie verder oor die vel versprei het nie en dit nog steeds nie dieper as die vel lyk nie, verklaar hy dat die persoon aanvaarbaar is. Die persoon gaan was sy klere en gaan weer terug na sy huis.
35. As die uitslag hervat het en weer begin versprei het nadat die persoon geskik verklaar was,
36. moet die dienaar weer daarna kyk. As dit verder oor die vel begin versprei het, hoef hy nie nog eers te soek na hare wat verkleur het nie - die persoon is in elk geval onaanvaarbaar.
37. Wanneer hy egter besluit dat die uitslag opgehou het en begin gesond word, omdat daar geen swart haartjies uitgekom het nie, is die persoon reg en mag hy weer teruggaan na die ander mense toe.
38. “Wanneer ’n man of ’n vrou oral ligte kolle op die lyf begin kry,
39. moet hy of sy na die tent toe gaan vir ’n ondersoek. As die uitslag baie lig van kleur is, is dit maar net onskadelike vlekke wat op die vel ontwikkel het. Die persoon is aanvaarbaar.
40. “As iemand se hare begin uitval en hy word bles, is hy nog steeds aanvaarbaar.
41. Selfs as hy sy kuif verloor en net op sy voorkop bles word, is hy nog steeds aanvaarbaar.
42. Wanneer daar egter op sy kaal voorkop of agter op sy bles ’n rooierige uitslag verskyn, het hy ’n velsiekte op sy kop.
43. Die dienaar moet dit ondersoek. As daar ’n rooierige uitslag op sy kop is wat soos ’n velsiekte lyk,
44. is hy aangetas en moet hy homself beslis uit die gemeenskap verwyder. Die dienaar moet uitdruklik verklaar dat die seer op sy kop hom onaanvaarbaar vir die gemeenskap gemaak het.
45. Die persoon wat met die velsiekte aangetas is, moet stukkende klere dra en nie sy hare kam of was nie. Hy moet die onderkant van sy gesig met iets toemaak en uitroep: ‘Ek mag nie by ander mense bly nie, ek mag nie in aanraking kom met ander mense nie!’