Josua 7:19-23 Die Boodskap (DB)

2-3. Josua het van sy manne uit Jerigo uit na Ai toe gestuur, ’n stad oos van Bet-El, naby die dorp Bet-Awen, met die opdrag om die omgewing te gaan verken. Toe hulle dit gedoen het, het hulle teruggekom en vir Josua gesê: “Ai is maar ’n klein dorpie met min soldate. Dit is nie nodig om die hele leër te vat om hierdie dorpie in te neem nie; 2 000 of 3 000 soldate is genoeg.”

19. Toe sê Josua vir Akan: “My seun, gee tog aan die Here die God van Israel die eer wat Hom toekom en bely jou skuld voor Hom. Sê vir my wat jy gedoen het. Moenie iets vir my probeer wegsteek nie.”

20. “Dis waar,” het Akan gesê. “Ek het teen die Here, Israel se God, gesondig.

21. Ek het onder die buit in Jerigo ’n pragtige mantel uit Babilonië gesien en ook sowat twee kilogram silwer en ’n staaf goud van meer as ’n halwe kilogram. Ek wou dit bitter graag gehad het. Daarom het ek dit maar vir my gevat. Ek het dit in my tent begrawe. Die silwer is dieper as die ander goed begrawe.”

22. Josua het mense gestuur om te gaan kyk of dit so is. Hulle is haastig na die tent toe. Daar aangekom, kry hulle alles net so daar begrawe, met die silwer heel onder.

23. Hulle het al die goed uit die tent gehaal en dit na Josua en die Israeliete toe gebring. Daar by die heiligdom het hulle die goed voor die Here op die grond uitgeskud.

Josua 7