14. “Daarom,” het Josua gesê, “eer nou die Here en dien Hom met alles binne-in julle. Raak ontslae van die afgode wat julle voorouers in Mesopotamië en in Egipte gedien het en dien die Here!
15. As julle nie bereid is om die Here voluit te dien nie, besluit dan hier en nou wie julle wil dien: die gode wat julle voorouers in Mesopotamië aanbid het of die gode van die Amoriete, in wie se land julle nou bly. Wat my en my gesin betref, ons het ons keuse klaar gemaak, ons gaan die Here dien.”
16. Toe sê die volk: “Ons dink nie vir ’n enkele oomblik daaraan om ons rug vir die Here te draai en ander gode te dien nie!
17. Die Here ons God het ons en ons voorouers van al die swaarkry daar in Egipte bevry. Ons het al die magtige wonders wat Hy gedoen het, met ons eie oë gesien. Die Here het ons beskerm, maak nie saak waar ons was of met watter mense ons te doen gekry het nie.
18. Dit is Hy wat die Amoriete en al die ander nasies wat in hierdie land gebly het, verdryf het. Ons gaan beslis ook die Here dien; Hy is ons God!”
19. Toe sê Josua vir die volk: “Julle moenie dink dit is so maklik om die Here te dien nie. Hy is ’n heilige God wat sy groot Naam beskerm. Hy verwag dat mense Hom reg moet dien. Hy gaan nie maar net elke keer julle sonde en julle opstandigheid oorsien nie.