Johannes 9:24-34 Die Boodskap (DB)

24. ’n Tweede keer roep die Joodse leiers toe die man nader. Hulle wou hom ’n bietjie toets: “Gaan liewers op jou knieë en sê vir God dankie. Maak Hom groot. Vergeet van hierdie ander man, hierdie Jesus; hy’s sommer ’n regte sondaar!”

25. Die man sê toe: “Wel, ek kan nie eintlik sê of hy ’n sondaar is of nie. Dis julle terrein daardie. Julle is mos die godsdienstige spesialiste. Waarin ek egter die spesialis is, is dit: ek was blind, maar nou kan ek sien!”

26. “Verduidelik ’n bietjie weer vir ons alles van voor af. Wat het hy presies gedoen?” vra hulle die man toe weer.

27. “Maar luister julle nie na wat ek sê nie? Ek het mos al vir julle alles vertel. Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil hom nie dalk begin volg nie, of hoe?”

28. Daarvan het die Joodse leiers niks gehou nie. Hulle het die man begin uitskel: “Jy’s deurmekaar, man. Jy is sy volgeling. Ons is getroue volgelinge van Moses.

29. En Moses staan ten minste aan God se kant, want God het met hom gepraat. Daarvan is ons seker! Maar hierdie man, Jesus, van hom weet ons niks. Ons weet nie eens waar hy uitgekruip het nie.”

30. Die man sê toe: “Dit is darem baie snaaks. Julle sê julle weet kamma nie waar hy uitgekruip het nie. Intussen was dit juis hy wat my weer laat sien het.

31. Ons almal weet tog dat God nie na mense luister wat niks met Hom te doen wil hê nie. God verhoor slegs die gebede van iemand wat Hom dien en so optree dat God met hom tevrede voel.

32. Boonop het nie een van ons nog ooit gehoor dat iemand ’n man wat blind gebore is, weer kon laat sien nie.

33. Jesus sou mos nie een van dié dinge kon doen as hy nie aan God se kant gestaan het nie, nie waar nie?”

34. Die Joodse leiers was woedend. “Jou hele lewe is net een groot stuk sonde. Van God en sy dinge weet jy net mooi niks! Nou wil jy jou lyf staan en godsdiensonderwyser hou by ons. Watter vermetelheid!” Hulle het hom verbied om weer sy voete by enige van hulle byeenkomste te sit. Hy was nie meer by hulle as Jode welkom nie.

Johannes 9