17. Hulle ondervra die man toe weer: “Sê vir ons, wat dink jy van Jesus? Jy behoort mos te weet, want dit is jou oë wat hy gesond gemaak het.”“Hy’s ’n man van God, ’n profeet,” kom die kort, maar kragtige antwoord.
18. Die Jode was baie skepties oor die storie dat die man regtig blind was. Toe hulle egter sy ouers roep en hulle vra, kon hulle nie meer twyfel nie.
19. “Is dié man julle seun wat volgens julle blind gebore is?”
20-21. “Ja, dit is ons seun dié. Julle kan ons maar glo, hy kon nog nooit sien nie,” antwoord sy ouers.“Hoe is dit dan dat hy nou skielik kan sien?” wou die Fariseërs weet.“Nee, nou vra julle ons vas. Ons weet nie. Ons het geen idee wie sy oë gesond gemaak het nie. Maar daar staan hy. Hoekom vra julle hom nie self nie? Hy’s mos al ’n grootmens. Hy kan darem seker vir homself praat.”
22. Sy ouers was bang vir die Jode; daarom het hulle so ontwykend geantwoord. Hulle het alte goed geweet wat die Joodse leiers besluit het: enigiemand wat iets goeds oor Jesus sê of Jesus in die openbaar verdedig, sou nie meer welkom wees by die Joodse byeenkomste nie. Sulke mense sal nooit weer daar mag kom, of saam met die Jode mag kerk hou nie. Daarvoor het die man se ouers nie kans gesien nie.
23. Om uit die moeilike situasie te kom het hulle maar gesê: “Vra hom self; hy’s oud genoeg.”