Johannes 8:45-56 Die Boodskap (DB)

45. Maar kyk nou wat gebeur met My. Ek kom praat die waarheid met julle, maar julle sê Ek lieg. Dit wys julle net!

46. Ek daag julle uit! Bewys dat Ek een voet verkeerd gesit het, ja, dat Ek iets gedoen het waarvan God nie sal hou nie. Toe, kan julle? Nou goed, as Ek dan die waarheid praat, waarom wil julle nie aanvaar wat Ek sê nie?

47. Ek kan maar net aan een rede dink: ’n kind van God sal mos graag na God luister. Julle wil nie na My luister nie, wat maar net kan beteken dat julle nie kinders van God is nie.”

48. Daarvan het die Jode niks gehou nie. “Dit bewys net weer hoe reg ons nog altyd oor jou was. Jy is van jou sinne beroof en nog dom ook!”

49. “Ek is allesbehalwe van my sinne beroof,” sê Jesus. “Dit is ’n kwessie van wie vir jou belangrik is. Vir My is my Vader belangrik en Ek steek dit nie weg nie. Maar al wat julle kan doen, is om My te beledig. Dit ontstel My egter nie.

50. Dit is nie Ek wat graag in die kalklig wil staan nie. Dit is God wat wil hê dat mense moet dink Ek is belangrik. En Hy is die Een wat besluit wat reg of verkeerd is.

51. Nou wil Ek regtig vir julle iets belangriks sê: as iemand dit wat Ek sê so ernstig opneem dat dit die enigste manier word waarop hy dink en optree, sal hy nooit, maar nooit, geestelik doodgaan nie.”

52. Die Jode het nie op hulle laat wag nie. “Nou wonder ons nie meer of jy van jou sinne beroof is nie, ons weet dit! Jy raak sommer goed kwyt soos dat die een wat jou woorde ernstig opneem, nooit geestelik sal doodgaan nie. Weet jy dan nie dat Abraham gesterf het nie? En weet jy nie dat God se boodskappers van ouds almal dood is nie? Wil jy nou probeer sê dat hulle nie God se boodskap geken het nie? Wat ’n vermetelheid!

53. Dink jy miskien jy is belangriker as ons vader Abraham of as die boodskappers van God? Hulle het gesterf, maar jy sal kamma nie sterf nie! Wie dink jy nou eintlik is jy?”

54. “Kyk, Ek probeer nie voorgee dat Ek belangriker is as wat Ek regtig is nie. Dit sou niks help nie,” sê Jesus. “Dit is my Vader wat wil hê dat julle moet sien hoe belangrik Ek regtig is. En weet julle wie is my Vader? Dit is niemand anders as die Een wat julle julle God noem nie.

55. Julle herken Hom natuurlik nie in wat Ek sê of doen nie, maar Ek weet dit is Hy. Ek ken Hom en Ek doen wat Hy sê. Ek moet dit vir julle sê. As Ek maak asof dit nie so is nie, is Ek ook net nog ’n leuenaar.

56. Dit het julle vader Abraham baie opgewonde gemaak om hom net voor te stel hoe dit sou wees as Ek kom. Hy het nie daaraan getwyfel dat Ek sou kom nie en hy was bly daaroor.”

Johannes 8