Johannes 8:34-40 Die Boodskap (DB)

34. “Dis eenvoudig: as jy sonde doen, is jy tog ’n slaaf; die sonde se slaaf, nie waar nie?” sê Jesus.

35. “’n Slaaf is nie ’n permanente lid van die familie nie. ’n Seun bly egter altyd ’n kind in die gesin. Die seun is dus die een wat vir altyd julle vryheid in die gesin kan waarborg, want hy is altyd daar.

36. As die Seun van God dus sê julle is vry, is julle regtig in God se gesin vry.

37. Natuurlik weet Ek dat julle biologies die nageslag van Abraham is. Wie weet dit nou nie? Maar tog wil julle My doodmaak. Dit sê iets van julle geestelike vader. Julle wil mos nie aanvaar wat Ek vir julle sê nie.

38. Intussen vertel Ek julle net wat Ek by die hemelse Vader gesien het. Julle moordgedagtes bewys egter alte duidelik dat Satan julle vader is. ’n Kind luister mos na wat sy pa vir hom sê.”

39. Die Jode sê toe weer: “Abraham is ons pa!”“Die werklike nageslag van Abraham sal beslis die voorbeeld volg wat Abraham gestel het.

40. Maar julle wil My sommer doodmaak omdat Ek eerlik is en vir julle die waarheid vertel. En dit is nogal die waarheid wat Ek by God self gehoor het. Abraham sou nooit soos julle gemaak het nie.

Johannes 8