Johannes 6:44-48 Die Boodskap (DB)

44. “Spaar julleself die moeite! My Vader wat My gestuur het, trek mense na My toe wat by My hoort. Dit is die mense wat Ek op die dag van die wederkoms uit die dood sal laat opstaan. Julle moet dus nie die idee kry dat julle op julle eie sonder my Vader deel sal word van God se familie nie.

45. Een van die boodskappers van God het juis dít bedoel toe hy geskryf het: ‘Hulle almal sal leerlinge van God self wees.’ Elkeen wat dus soos ’n goeie leerling mooi luister na wat die Vader sê, sal weet dat hy na My toe moet kom.

46. Daarmee sê Ek nie dat iemand anders die Vader al persoonlik gesien het nie, behalwe die Seun. Hy was by die Vader en het van Hom af gekom. Hy het eerstehandse kennis van die Vader.

47. Luister daarom mooi na wat Ek vir julle sê: die ewige lewe behoort aan daardie persoon wat ’n persoonlike volgeling en vriend van My is.

48. Want Ek is die brood wat lewe gee.

Johannes 6