Johannes 5:7-20 Die Boodskap (DB)

7. “Meneer,” antwoord die siek man, “ek sou graag wou, maar ek het niemand om my in die bad te sit as die water begin roer nie. Terwyl ek my bes probeer om eerste daar te kom, gaan iemand anders voor my in.”

8. “Staan op!” sê Jesus. “Vat jou slaapmat en stap hier weg.”

9. Die man het dadelik gesond geword. Hy het sy slaapmat opgetel en weggestap. Dit het op die sabbat gebeur.

10. “Dit is die sabbat vandag,” gaan die Jode die man teë. “Jy mag mos nie vandag jou slaapmat dra nie.”

11. “Dis nie ek nie! Dis die man wat my gesond gemaak het. Dit is Hy wat vir my gesê het: ‘Tel jou goed op en stap hier weg,’” maak die man verskoning.

12. Hulle vra hom toe: “Wie het dit gesê?”

13. Die man was nie seker nie, want Jesus was nie meer daar nie. Hy is stilletjies daar weg omdat so baie mense daar saamgedrom het.

14. Later loop Jesus die man weer in die tempel raak. “Wel, jy is nou gesond. Bly nou van die sonde af weg sodat iets slegters jou nie dalk tref nie.”

15. Die man is toe reguit na die Jode toe om vir hulle te vertel dat dit Jesus was wat hom gesond gemaak het.

16. Daarna het die Jode begin kyk of hulle Jesus nie in die moeilikheid kon bring nie, want hulle was baie ontevrede omdat Hy hierdie tipe ding op die sabbat gedoen het.

17. Jesus het Homself verdedig: “My Vader werk reg deur tot nou toe, sabbat of nie. Net so werk Ek ook.”

18. Oor hierdie woorde was die Jode éérs ongelukkig. Veral twee dinge was vir hulle heeltemal te erg en dit was die manier waarop Jesus die sabbat so ongeërg gebreek het en dat Jesus sommer gesê het God is sy Vader. So maak Hy of Hy op gelyke voet met God staan. Daarom het hulle toe besluit om Jesus te probeer doodmaak.

19. Jesus kap toe terug: “Julle kan My sowaar maar glo; die Seun kan niks uit sy eie sonder sy Vader doen nie. Soos ’n goeie Seun kyk Hy mooi wat sy Vader doen. Wat Hy sy Vader sien doen, doen Hy presies net so.

20. Die Vader het die Seun lief. Daarom hou Hy niks vir Hom geheim nie, maar wys Hom alles wat Hy doen. Julle dink die lam man wat Ek gesond gemaak het, was iets besonders. Julle het eintlik nog niks gesien nie. Die Vader sal die Seun wys hoe om groter dinge as dit te doen. Julle sal julle oë nie kan glo nie.

Johannes 5