Johannes 5:35-47 Die Boodskap (DB)

35. Johannes kan met ’n lamp vergelyk word. Hy het gebrand en sy lig gegee. ’n Rukkie lank was dit vir julle lekker om in daardie lig te leef.

36. “Ek het egter getuies wat baie belangriker is as Johannes. My eerste getuie is die wonderlike dinge wat Ek doen. My Vader het My spesiale dinge gegee om hier op aarde te kom doen. Dit is dus ’n goeie bewys daarvan dat die Vader My gestuur het.

37. Die tweede getuie is die Vader. Hy het My gestuur. Julle het Hom nog nooit direk hoor praat nie. Net so min het julle Hom al ooit gesien.

38. Julle weet ook nie wat Hy regtig sê nie en glo dit ook nie wanneer julle dit hoor nie. Dit alles sien ’n mens daaraan dat julle nie glo in die Een vir wie die Vader gestuur het nie.

39. My derde getuie is die Skrif. Julle is oortuig dat julle in die Skrif die pad na die ewige lewe kan ontdek. Daarom lees en bestudeer julle die Skrif so ywerig. Maar julle kyk een ding mis. Hierdie selfde Skrif praat met oortuiging van My.

40. Tog wil julle nie na My toe kom sodat Ek vir julle die ewige lewe kan gee nie.

41. Ek gee nie om wat mense van My dink nie.

42. Ek ken julle mos! Ek weet dat julle God nie regtig uit die hart uit liefhet nie.

43. “Ek het gekom en is hier namens my Vader. Maar julle wil dit nie aanvaar nie. Julle draai julle rug vir My. Julle is egter gou om iemand anders te aanvaar wat geen gesag het nie en sommer op sy eie hier aankom.

44. Dit laat my wonder: Hoe gaan julle ooit glo? Julle is heeltemal op die verkeerde pad. Julle wil so graag belangrik wees in mekaar se oë dat julle glad nie omgee wie of wat vir die enigste God belangrik is nie.

45. “Julle tyd sal kom. Dan sal julle as beskuldigdes in die groot hofsaal voor God moet staan. Dit gaan nie eens vir My nodig wees om te sê wat julle alles verkeerd gedoen het nie. Moses gaan dit doen; ja, daardie einste Moses op wie julle al julle hoop so vestig. Julle wil My nie glo nie? Wel, Ek het nuus vir julle.

46. Baie van die dinge wat Moses geskryf het, het hy oor My geskryf. Daarom, as julle verstaan en aanvaar wat Moses geskryf het, moet julle My ook verstaan en aanvaar. Eintlik is daar nie salf aan julle te smeer nie.

47. As julle dan nie eens wil aanvaar wat Moses self geskryf het nie, watter hoop het Ek dat julle gaan luister na wat Ek vir julle te sê het?”

Johannes 5