Johannes 5:30-35 Die Boodskap (DB)

30. “Al hierdie dinge doen Ek egter nie op my eie nie. Ek het mooi geluister na wat die Vader sê. As Ek nou besluite oor mense neem, doen Ek dit soos my Vader dit sou doen. Daarom is Ek ook seker dat my besluite altyd reg en regverdig is. Mense kan nie sê dat dit sommer my eie idees is nie, want Ek wil nie my eie wil op mense afdwing nie.

31. Nee, die besluite wat Ek neem, kom van God af; Hy het My gestuur om te kom sê presies wat Hy wil hê.

32. “In ’n hof sou mense miskien kon sê dat hulle My nie sal glo as net Ek alleen al hierdie dinge sê nie. Ek is egter nie die enigste getuie in hierdie saak nie. Daar is ook ander en hulle praat die heilige waarheid.

33. “Julle onthou mos nog die mense wat julle na Johannes die Doper toe gestuur het? Alles wat hy vir hulle oor My gesê het, is waar. Glo dit maar.

34. “Ek het egter nie mense se getuienis nodig nie. Ek hoef Johannes nie eens as getuie te roep nie, want Ek het beter getuies as hy. Ek herinner julle egter net aan wat hy gesê het sodat dit julle kan help op julle pad na redding.

35. Johannes kan met ’n lamp vergelyk word. Hy het gebrand en sy lig gegee. ’n Rukkie lank was dit vir julle lekker om in daardie lig te leef.

Johannes 5