2-3. Naby die Skaappoort in Jerusalem was daar ’n bad wat in Hebreeus Betesda genoem is. Dit was die bymekaarkomplek vir mense met die een of ander siekte, soos blindes, kreupeles en mense met ander siektes. By die bad was daar pilare met ’n dak op. Die pilare het vyf gange gevorm. Daar het die siekes rondgesit of -gelê.
16. Daarna het die Jode begin kyk of hulle Jesus nie in die moeilikheid kon bring nie, want hulle was baie ontevrede omdat Hy hierdie tipe ding op die sabbat gedoen het.
17. Jesus het Homself verdedig: “My Vader werk reg deur tot nou toe, sabbat of nie. Net so werk Ek ook.”
18. Oor hierdie woorde was die Jode éérs ongelukkig. Veral twee dinge was vir hulle heeltemal te erg en dit was die manier waarop Jesus die sabbat so ongeërg gebreek het en dat Jesus sommer gesê het God is sy Vader. So maak Hy of Hy op gelyke voet met God staan. Daarom het hulle toe besluit om Jesus te probeer doodmaak.
19. Jesus kap toe terug: “Julle kan My sowaar maar glo; die Seun kan niks uit sy eie sonder sy Vader doen nie. Soos ’n goeie Seun kyk Hy mooi wat sy Vader doen. Wat Hy sy Vader sien doen, doen Hy presies net so.
20. Die Vader het die Seun lief. Daarom hou Hy niks vir Hom geheim nie, maar wys Hom alles wat Hy doen. Julle dink die lam man wat Ek gesond gemaak het, was iets besonders. Julle het eintlik nog niks gesien nie. Die Vader sal die Seun wys hoe om groter dinge as dit te doen. Julle sal julle oë nie kan glo nie.
21. Soos die Vader dooie mense weer lewendig maak, so sal die Seun dit ook doen waar en wanneer Hy wil. En dit is nie al nie.
22. Die Vader gaan self nie meer die Regter wees wat die oordeel oor mense gaan uitspreek nie. Hy het aan sy Seun die reg gegee om dit te doen.
23. Daarom sal mense net soveel eer aan die Seun bewys as aan die Vader. Daar is egter ook ’n ander kant van die saak: wie nie die Seun respekteer nie, respekteer ook nie die Vader nie. Die Vader het immers die Seun gestuur om Hom te kom verteenwoordig.