19. “Meneer, jy is sowaar ’n profeet. Kom, sê my ’n bietjie, ons voorvaders het God op hierdie berg aanbid.
20. Julle Jode sê weer dat Jerusalem die regte plek is om God te aanbid. Wat sê jy daarvan?” vra sy.
21. “Mevrou,” sê Jesus, “dit is nie meer lank nie, dan gaan julle die Vader nie meer hier op hierdie berg of in Jerusalem aanbid nie.
22. Julle Samaritane ken nie regtig die God wat julle aanbid nie. Ons Jode ken daardie God. Geen wonder nie, want God se stroom van redding borrel eers in die Jodedom op en vloei dan na almal. Die tyd is nou ryp! Opregte gelowiges sal nie meer na ’n spesiale heilige plek hoef te gaan om die Vader daar te dien nie.
23. Tye verander. Hulle sal nou op enige plek met God kan praat, net solank hulle dit opreg met die hulp van die Heilige Gees doen. Die Vader self het besluit dat dit so moet wees.
24. Immers, God is Gees. Daarom is dit verstaanbaar en nodig dat die Heilige Gees die gelowiges moet help om Hom opreg te dien soos Hy daarvan hou.”
25. Die vrou sê toe weer: “Ek weet dat die Messias kom. Die Grieke praat mos van Hom as ‘Christus’. Nou ja, wanneer Hy kom, sal Hy vir ons van al die nuwe dinge kom vertel.”
26. Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die Redder, die Messias, wat nou met jou praat.”
27. Net toe kom sy dissipels daar aan. Hulle was nogal verbaas toe hulle Jesus met die vrou sien gesels, maar het nie ’n woord gesê nie. Nie een het eens vir haar gevra: “Wat soek jy?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie.
28. Die vrou is toe terug dorp toe, sonder haar waterkruik. “Kom gou!” het sy die mense geroep. “Ek het ’n vreemde man raakgeloop wat my hele lewensverhaal vir my vertel het.
29. Kom kyk, is Hy nie dalk die Christus nie?”