11. “Meneer, hierdie put is diep en jy het nie eens ’n emmer en tou nie. Waar dink jy gaan jy daardie vars water vandaan kry?” vra sy.
12. “Jy is tog sekerlik nie beter as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons nagelaat het nie. Hy self het water uit hierdie put gedrink, soos sy kinders en diere ook.”
13. “Wel, elkeen wat van hierdie put se water drink, sal na ’n rukkie weer dors word,” antwoord Jesus.
14. “Wie egter van die water drink wat Ek hom sal gee, sal nooit ooit weer dors word nie. Daar sal iets in daardie persoon gebeur. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal in ’n fontein binne-in hom verander. Hierdie borrelende, lewende water sal maak dat hy vir ewig sal lewe.”
15. “Meneer, gee my asseblief van daardie water,” vra sy dadelik. “Dink net, ek sal dan nooit weer dors word nie en ook nooit weer die moeite hoef te doen om hier te kom water haal nie.”
16. Hy vra haar toe: “Gaan roep gou jou man en kom hier.”
17. “Ek het nie ’n man nie,” sê sy.“Dit is ’n eerlike antwoord,” sê Jesus.
18. “Jy was voorheen al vyf maal getroud. Boonop is jy nie eens getroud met die man met wie jy nou saambly nie. Ja, jy het die waarheid gepraat.”
19. “Meneer, jy is sowaar ’n profeet. Kom, sê my ’n bietjie, ons voorvaders het God op hierdie berg aanbid.
20. Julle Jode sê weer dat Jerusalem die regte plek is om God te aanbid. Wat sê jy daarvan?” vra sy.
21. “Mevrou,” sê Jesus, “dit is nie meer lank nie, dan gaan julle die Vader nie meer hier op hierdie berg of in Jerusalem aanbid nie.
22. Julle Samaritane ken nie regtig die God wat julle aanbid nie. Ons Jode ken daardie God. Geen wonder nie, want God se stroom van redding borrel eers in die Jodedom op en vloei dan na almal. Die tyd is nou ryp! Opregte gelowiges sal nie meer na ’n spesiale heilige plek hoef te gaan om die Vader daar te dien nie.