Johannes 12:32-37-38 Die Boodskap (DB)

32. Ek gaan opgelig word van die aarde af.

33. (Hier het Hy sy kruis in gedagte gehad.) Soos ’n magneet gaan Ek dan mense na My toe aantrek, weg van die sonde van die wêreld af.”

34. “Nou is ons deurmekaar!” sê die mense toe. “Sover ons weet, sê die Skrif dat as die Redder eers eenmaal hier is, Hy altyd hier sal bly. Nou sê jy dat die Seun aan ’n kruis gaan hang. Waarvan praat jy? Wie is hierdie ‘Seun’?”

35. Jesus antwoord toe met ’n beeld: “Dit is nog nie donker nie. Die Lig gaan nog ’n rukkie hier wees: gebruik die lig om te doen wat jy moet doen. Netnou kom die donker en dan is dit te laat. As dit eers donker is, verdwaal jy maklik en dít is ’n gemors.

36. Die Lig skyn nou oor julle. Maak oop julle oë en aanvaar die Lig. Dan sal julle altyd by die Lig wees en werklik sinvol kan leef.” Daarna is Jesus daar weg sonder dat die mense presies geweet het waarheen Hy is.

37-38. Wat Jesaja soveel jare terug gesê het, is met Jesus weer waar bewys. Die mense wou Jesus nie aanvaar nie, al het Hy al die wonderlike dinge gedoen. Jesaja het nie verniet gesê nie:“Here, wie het hulle aan ons woorde gesteur? Wie het raakgesien wat die Here regtig kan doen?”

Johannes 12