Johannes 12:12-16 Die Boodskap (DB)

12. Jerusalem het uit sy nate gebars van al die mense wat fees toe gekom het. Hulle was baie opgewonde toe hulle hoor Jesus kom Jerusalem toe. Natuurlik is hulle dadelik daar weg om Hom langs die pad te ontmoet.

13. Met palmtakke in die hand het hulle die hele pad geskreeu: “Ons prys U, U is baie spesiaal! U kom omdat die Here dit wil hê, U is die koning van Israel.”

14. Jesus het op ’n jong donkie daar aangery gekom. Die Skrif sê mos:

15. “Julle hoef nie bang te wees nie, inwoners van Sion. Kyk net; julle koning kom. Hy ry op ’n jong donkie.”

16. Jesus se volgelinge het natuurlik nie in daardie stadium besef dat hierdie gejuig en die woorde uit die Skrif ’n baie dieper betekenis gehad het nie. Dit sou hulle eers later insien. Eers toe Jesus sy krag gewys het deur uit die dood op te staan, het hulle weer mooi oor alles gedink. Toe het hulle dit begryp.

Johannes 12