Joël 3:1-2-11 Die Boodskap (DB)

1-2. In daardie tyd sal Ek baie goed wees vir al my mense in Juda en Jerusalem, sê die Here. Maar Ek sal al die ongelowige volke in die vallei van Josafat bymekaarmaak. Daar sal Ek hulle terugkry omdat hulle my volk, Israel, uit hulle eie land verdryf het en my land vir hulleself gevat het.

3. Daardie slegte spul het mos lootjies getrek om te sien wie van hulle my volk sou kry om as slawe vir hulle te kom werk. Hulle het jong seuns en dogters as slawe verkoop om prostitute en drank in die hande te kry.

4. En julle, Tirus en Sidon, en al die woonplekke van die Filistyne, wat probeer julle aan My doen? Dink julle miskien dat julle My kan terugkry oor iets wat Ek gedoen het? Wel, dan wag daar ’n groot verrassing op julle! Pas op, want voor julle julle oë kan uitvee, gaan Ek julle onderstebo loop. Ek sal al julle slegte planne teen julle gebruik!

5. Julle het al die silwer en goud en kosbare skatte wat aan My behoort, weggevat en in julle heidense tempels gaan sit.

6. Julle het die mense van Juda en Jerusalem ver uit hulle land weggevat en hulle aan die Grieke verkoop.

7. Maar Ek sal hulle laat terugkom van al daardie plekke af waarheen julle hulle as slawe verkoop het. En dan gaan Ek presies dieselfde met julle doen as wat julle met hulle gedoen het.

8. Ek sal julle seuns en dogters aan die mense van Juda verkoop. Hulle sal julle kinders weer aan die mense van Skeba verkoop, wat ver van hier af bly. Dit beloof Ek, die Here!

9. Gee die volgende boodskap vir al die volke wat nie in My glo nie: Maak julle reg vir oorlog! Roep al julle dapper manne. Kry julle soldate gereed om aan te val!

10. Verander julle ploeë in swaarde en julle snoeiskêre in spiese. Selfs die swakstes onder julle moet opgelei word om soos dapper soldate te veg.

11. Julle moet gou maak. Maak al die volke uit die omgewing bymekaar en bring hulle af na die vallei toe. En nou, Here, stuur u magtige leër om al daardie mense aan te val!

Joël 3