11. Begin huil, saaiboere, want die koring en die gars, ja, al die oeste is daarmee heen. Huil, vrugteboere,
12. want die wingerde en die vyeboorde het almal van droogte doodgegaan; al die granaat-, dadel- en appelbome, ja, al die bome in julle boorde het verdroog en is besig om dood te gaan. Boonop het die mense se vreugde heeltemal opgedroog.
13. Trek vir julle rouklere aan en treur, priesters, julle wat die offers op die altaar moet bring. Huil die hele nag deur daar waar julle God dien, want daar is niks meer koring of wyn oor om in die huis van julle God aan Hom te offer nie.
14. Roep nou dadelik ’n vasdag uit. Almal moet uit berou oor hulle sondes ophou eet. Belê ’n gemeentevergadering. Kry die leiers en die hele volk in die woonplek van die Here julle God bymekaar. Pleit by die Here om weer goed te wees vir julle.
15. Die dag van die Here is bitter naby, die dag van die Almagtige is ’n dag waarop al die slegte mense vernietig gaan word! Hoe verskriklik gaan hierdie dag nie wees nie!
16. Ons staan en kyk hoe ons kos voor ons oë verdwyn. Ons het niks meer om oor bly te wees wanneer ons in die woonplek van ons God bymekaarkom nie.