Joël 1:1-15 Die Boodskap (DB)

1. Hier volg die Here se boodskap aan sy volk deur Joël, die seun van Petuel.

2. Luister hierna, leiers van die volk! Maak oop julle ore, inwoners van die land! Het julle al ooit so iets in julle geskiedenis beleef?

3. In die jare wat kom, moet julle dit vir julle kinders vertel. Hierdie aaklige verhaal moet van geslag tot geslag oorvertel word.

4. Die een swerm sprinkane na die ander het in julle oeste ingevaar. Wat die een swerm gelos het, het die volgende een verwoes. Hulle het aangehou om in julle oeste in te vlieg totdat hulle alles opgevreet het.

5. Word wakker en huil, julle klomp dronklappe! Al die druiwe waarmee julle nuwe wyn wou maak, is verwoes. Huil oor die wyn wat julle nie meer sal drink nie, julle spul wynsuipers!

6. ’n Groot sprinkaanplaag het ons land getref; hulle is verskriklik sterk, te veel om te tel. Hulle tande is vlymskerp soos dié van ’n leeu.

7. Hulle het ons wingerde verwoes en al ons vyebome opgevreet. Hulle het selfs die bas van die jong lote afgevreet. Net die kaal, wit stamme het oorgebly.

8. Huil van hartseer soos ’n jongmeisie wat rou oor haar verloofde wat dood is voordat hulle kon trou.

9. Luister hoe huil die priesters omdat daar nie koring of wyn is om by die tempel aan die Here te offer nie.

10. Die weiding is weggevreet en die lande verwoes. Van die koringoes, die druiweoes en die olyfoes het daar net mooi niks gekom nie.

11. Begin huil, saaiboere, want die koring en die gars, ja, al die oeste is daarmee heen. Huil, vrugteboere,

12. want die wingerde en die vyeboorde het almal van droogte doodgegaan; al die granaat-, dadel- en appelbome, ja, al die bome in julle boorde het verdroog en is besig om dood te gaan. Boonop het die mense se vreugde heeltemal opgedroog.

13. Trek vir julle rouklere aan en treur, priesters, julle wat die offers op die altaar moet bring. Huil die hele nag deur daar waar julle God dien, want daar is niks meer koring of wyn oor om in die huis van julle God aan Hom te offer nie.

14. Roep nou dadelik ’n vasdag uit. Almal moet uit berou oor hulle sondes ophou eet. Belê ’n gemeentevergadering. Kry die leiers en die hele volk in die woonplek van die Here julle God bymekaar. Pleit by die Here om weer goed te wees vir julle.

15. Die dag van die Here is bitter naby, die dag van die Almagtige is ’n dag waarop al die slegte mense vernietig gaan word! Hoe verskriklik gaan hierdie dag nie wees nie!

Joël 1