Job 9:23-35 Die Boodskap (DB)

23. As die een of ander ramp onskuldige mense skielik tref en hulle gaan dood, lag Hy oor hulle ellende.

24. God het die wêreld vir die slegte mense gegee. Hy het ook die regters blind gemaak om nie verkeerde goed raak te sien nie. Hulle tree nie regverdig op nie. As dit nie die Here is wat dit gedoen het nie, wie het dan?”

25. Job sê ook: “’n Atleet hardloop baie vinnig. My lewe gaan nog vinniger as dit verby. My dae vlieg verby sonder dat enigiets goeds gebeur.

26. My lewe verdwyn soos ’n boot van papirus wat vinnig verbyskiet. Dit verdwyn so vinnig soos ’n arend op sy prooi neerduik.

27. Ek kan sê ek sal met al my gekla ophou. Ek kan ook besluit om op te hou om met ’n lang gesig rond te loop en vroliker te wees.

28. Maar dan word ek bang vir al die swaarkry wat nog voorlê. Ek weet, Here, dat U nie dink dat ek onskuldig is nie.

29. As ek dan nie anders kan as om skuldig te wees nie, wat help dit dan nog om enige moeite te doen? Dit is alles verniet!

30. Dit sal nie eens help om my met seep of enige sterk wasmiddel te was nie.

31. U sal my tog net weer in ’n modderpoel gooi. Dan sal ek so vuil wees dat selfs my eie klere my sal haat.”

32. Job het gesê: “Die Here is nie ’n mens soos wat ek is nie. Ek kan nie met Hom baklei en terugpraat nie. Ons kan ook nie hof toe gaan om te sien wie van ons twee reg is nie.

33. Ek wens daar was iemand wat ons twee bymekaar kon bring en ons kon help om vrede te maak. Maar daar is nie so iemand nie.

34. Ek wens verder dat die Here sal ophou om my te slaan. Ek wil nie langer so vreeslik bang wees vir Hom nie.

35. As dit kon gebeur, sou ek met Hom kon praat sonder om bang te wees. Maar soos sake nou staan, kan ek nie.”

Job 9