2. “As my hartseer geweeg en my probleme op ’n skaal gesit kon word,
3. sal dit swaarder weeg as al die sand van die see. Dit is hoekom ek so kras gepraat het.
4. Die Here wie se mag geweldig groot is, het my met sy pyle geskiet. Ek is vol van die gif van hierdie pyle. God het vreeslike dinge op my pad gestuur.
5. Sê my, het ek die reg om ongelukkig te voel? ’n Donkie balk as hy nie gras het om te eet nie. ’n Bees bulk ook as daar nie voer in die krip is nie.
6. En mense kla as daar nie sout in die kos is nie en dit smaakloos is. Die wit van ’n ongekookte eier is ook nie eetbaar nie. Dit is sleg!
7. Ek sit nie my mond aan sulke kos nie. Dit maak my siek!”
8. Job het verder gepraat: “Ag, as ek maar kan kry wat ek vra. Ek wens so dat God sal gee wat ek met my hele hart begeer!
9. Ek wens Hy wil my verpletter. Ek wens Hy wil my laat doodgaan!
10. Ten minste kan ek my hiermee troos: al kon ek die pyn amper nie uitstaan nie, so erg was dit, het ek wat die Here sê ernstig opgevat.
11. Ek het nie meer die krag om langer uit te hou nie. Daar is nie meer iets in die lewe oor wat dit vir my die moeite werd maak om aan te hou nie.
12. Is ek miskien van klip gemaak? Dink julle my lyf is so hard soos koper?
13. Nee, die waarheid is dat ek heeltemal hulpeloos is. Ek kan myself nie help nie. Daar is geen hoop op uitkoms nie.”
14. Verder sê Job: “’n Mens moet mooi werk met ’n vriend wat in so ’n toestand soos ek is. Ja, selfs al het ek miskien nie so geleef soos die Here wou hê ek moes nie.
15. Julle is my vriende, maar julle is net so onbetroubaar soos ’n spruit wat die een oomblik droog is en die volgende oomblik kom die water daarin afgestroom.
16. Onder die ys is die water donker. Sneeu maak die spruit so toe dat dit lyk of daar niks is nie.
17. Wanneer dit weer warm word, verdamp die water. Die hitte droog die spruit heeltemal op sodat ’n mens nie eens kan sien dat daar een was nie.