Job 4:9-21 Die Boodskap (DB)

9. As God in sy woede sy asem oor hulle uitblaas, is dit verby met hulle. Hulle gaan net so dood!

10. Al brul hierdie mense soos wrede leeus, sal hulle tande gebreek word.

11. Hierdie mense wat so verkeerd doen, sal soos leeus wees wat nie ’n prooi kry om dood te maak nie. Hulle sal van die honger doodgaan en hulle kleintjies sal alleen agterbly.”

12. Verder het Elifas gesê: “Iemand het iets in die geheim in my oor gefluister.

13. Dit het in die nag gebeur toe almal al geslaap het. Dit was soos ’n gesig wat ek gesien het.

14. Angs het my beetgepak. Ek het geskud en gebewe so bang was ek.

15. Iets soos wind of ’n gees het liggies voor my gesig verbygegaan. Dit het my hare laat regop staan.

16. Dit het later opgehou, maar ek kon nie uitmaak wie dit was nie. Daar was net ’n gedaante voor my. In die stilte het ek ’n stem gehoor wat sê:

17. ‘Kan ’n gewone mens ooit regtig alles reg doen in die oë van die Here? Of kan ’n mens ooit sonder enige foute wees voor sy Maker?

18. Die Here kan nie eers sy eie werkers vertrou nie. Hy sien selfs die foute raak wat sy engele maak.

19. Hoeveel minder kan Hy mense vertrou wat van klei gemaak is! En klei is eintlik niks anders as stof nie. Hulle kan soos motte platgedruk word.

20. Hulle kan in die môre nog springlewendig wees, maar teen die aand se kant dood wees. Niemand sal hulle eers mis nie.

21. So ’n mens wat doodgaan, is soos ’n tent wat platval as die toue uitgeruk word. En dan gaan hulle dood sonder dat hulle insig en kennis kon kry.’”

Job 4