Job 39:1-19 Die Boodskap (DB)

1. “Kan jy vir die leeuwyfie haar prooi jag? Kan jy vir die jong leeus genoeg gee om te eet

2. daar waar hulle in hulle blyplekke lê of wegkruip terwyl hulle wag dat die jag moet klaarmaak?

3. Wie gee vir die kraaie kos as hulle rondskarrel omdat daar nie kos is nie, wanneer hulle kleintjies na God roep om vir hulle kos te gee?”

4. “Weet jy wanneer dit tyd is vir die bergbokke om te lam? Het jy al bygestaan as ’n wildsbokooi geboorte gee?

5. Weet jy hoe lank sy die ongebore lam dra? Weet jy wanneer hulle moet lam?

6. Wanneer dit tyd is dat die lam gebore moet word, hurk die ooi neer vir die geboorte.

7. Die klein bokkies groei en word in die veld groot. As hulle uitgegroei is, gaan hulle van hulle ouers af weg en kom nooit weer terug nie.

8. “Wie het die wilde donkies losgelaat en hulle vry laat rondloop?

9. Ek het hulle in die woestyn laat bly. Die soutpanne was hulle weiplek.

10. Hulle bly van die geraas in die stad af weg. Hulle steur hulle ook nie aan die geskree van mense wat hulle rondjaag en wil tem nie.

11. Hulle loop en wei in die berge en soek na elke groen grassie wat hulle kan kry om te eet.

12. “Sal die buffel bereid wees om vir jou te werk? Sal hy in die aand by jou voerbak kom staan en eet?

13. Kan jy ’n buffel voor ’n ploeg inspan? Sal hy jou landerye vir jou ploeg en eg?

14. Die buffel het geweldige krag. Sal jy op sy krag staatmaak om jou harde werk vir jou te doen?

15. Kan jy die buffel vertrou om jou graan vir jou na die dorsvloer toe te bring?

16. “Die volstruis is vrolik en klap haar vlerke. Haar vere en vlerke is pragtig.

17. Sy los haar eiers bo-op die grond en laat die grond dit warm hou.

18. Sy dink nie eers daaraan dat iemand op die eiers kan trap of dat die wilde diere hulle kan breek nie.

19. Sy werk rof met haar kuikens asof dit nie haar eie is nie. Dit lyk nie of dit haar pla dat haar moeite om hulle uit te broei verniet kan wees nie.

Job 39