Job 33:8-21 Die Boodskap (DB)

8. Ek het elke woord gehoor wat jy gesê het.

9. Jy het gesê: ‘Ek voel nie skuldig nie, want ek het nie oortree nie. Ek is onskuldig, ek het niks verkeerds gedoen nie.

10. Maar dit is God wat met my foutvind. Hy maak of ek sy vyand is.

11. Hy sit boeie aan my voete. Ek is soos ’n iemand in die tronk. Hy hou elke beweging van my dop.’”

12. Elihu het gesê: “Maar jy is verkeerd, Job, en ek sal jou sê hoekom ek van jou verskil. Jy sien, God is groter as ’n mens.

13. Hoe kan jy God verwyt omdat Hy jou nie antwoord op alles wat jy gesê het nie?

14. God praat op verskillende maniere met mense, maar hulle besef dit nie altyd nie.

15. Vir party mense sal God ’n droom of ’n gesig in die nag gee as hulle vas op hulle bed lê en slaap.

16. Op so ’n manier gee die Here dan vir hulle ’n duidelike waarskuwing

17. om met verkeerde dinge op te hou en nie te veel van hulleself te dink nie.

18. So probeer Hy keer dat mense doodgaan en in die graf eindig.

19. “Ander kere weer probeer God mense reghelp deur siekte en pyn wat net nie ophou nie.

20. Hulle verloor dan selfs hulle eetlus en wil nie eers van die lekkerste kos eet nie.

21. Op die ou einde is hulle net vel en been, so maer is hulle.

Job 33