Job 23:5-13 Die Boodskap (DB)

5. Ek sou na sy antwoord geluister het en probeer verstaan het wat Hy sê.

6. Ek glo nie Hy sou sy groot mag gebruik het om my te oorrompel nie. Nee, Hy sou na my geluister het.

7. ’n Mens wat reg leef, sou met Hom oor sake kon redeneer. Ek is oortuig daarvan dat my Regter my sou vrygespreek het.

8. “Ek gaan oos, en Hy is nie daar nie. Ek soek in ’n westelike rigting, maar ek kry Hom nie.

9. Ek het in die noorde en in die suide gesoek, maar ek kon Hom steeds nie kry nie.

10. Die Here ken my lewe. As Hy my sou toets, sal Hy uitvind dat ek soos suiwer goud is.

11. Ek leef soos Hy wil hê ek moet leef. Ek volg Hom en draai nie links of regs van die koers af nie.

12. Hy het sekere voorskrifte gegee wat ons moet navolg, en ek kom dit na. Ek vat sy woorde baie ernstig op.

13. Maar Hy bly soos Hy is, Hy verander nie. Wie sal dit waag om Hom te probeer verander? Hy doen net wat Hy wil doen.

Job 23