Job 2:3-10 Die Boodskap (DB)

3. Die Here het toe vir die Satan gevra: “Het jy miskien vir Job raakgesien? Hy behoort aan My en doen net wat Ek hom vra om te doen. Op die hele aarde is daar nie ’n mens wat sy gelyke is nie. Hy lei ’n skoon en eerlike lewe. Hy doen ook nie verkeerde dinge nie. Hy dien My en hy bly van slegte en verkeerde goed af weg. Jy het My nou wel oorreed om hom sonder enige rede kwaad aan te doen, maar hy bly nog steeds by wat hy glo. Hy is nie van koers af gegooi nie.”

4. Die Satan het die Here geantwoord: “Dit bewys niks nie. Hy leef reg voor U net omdat dit hom pas. ’n Mens sal enigiets prysgee as dit waarborg dat jy sal bly lewe.

5. Maar vat net sy gesondheid weg en hy sal U in u gesig slegsê!”

6. Die Here het vir Satan toegegee: “Nou maar maak dan met Job soos jy wil, maar op een voorwaarde: jy spaar sy lewe!”

7. Satan is toe daar weg. Hy het Job in die hande gekry en hom siek gemaak. Sy hele lyf, van sy kop tot sy tone, het vol sere geword.

8. Job het eenkant in die as gaan sit. Hy het ’n potskerf gevat en sy vel daarmee geskraap.

9. Sy vrou het met hom gepraat en gevra: “Bly jy nog steeds by wat jy glo reg is, Job? Hoekom vloek jy nie die Here en kry klaar en gaan dan dood nie.”

10. Job het haar geantwoord: “Jy praat nou soos ’n mens wat net mooi niks verstaan nie. As die Here vir ons goeie dinge gee, vat ons dit sonder om twee keer daaroor te dink. Dink jy dan nie dat ons dit moet aanvaar as Hy ook slegte dinge met ons laat gebeur nie?” Al het al hierdie slegte dinge met Job gebeur, het hy steeds nie iets verkeerds gesê nie.

Job 2