Job 2:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Op ’n dag het die inwoners van die hemel weer na die Here toe gekom. Die Satan was saam met hulle daar. Hy het mense gewoonlik aangekla.

2. Die Here het vir hom gevra: “Waar kom jy vandaan?”Satan het geantwoord: “Ek het heen en weer en kruis en dwars oor die aarde rondgegaan.”

3. Die Here het toe vir die Satan gevra: “Het jy miskien vir Job raakgesien? Hy behoort aan My en doen net wat Ek hom vra om te doen. Op die hele aarde is daar nie ’n mens wat sy gelyke is nie. Hy lei ’n skoon en eerlike lewe. Hy doen ook nie verkeerde dinge nie. Hy dien My en hy bly van slegte en verkeerde goed af weg. Jy het My nou wel oorreed om hom sonder enige rede kwaad aan te doen, maar hy bly nog steeds by wat hy glo. Hy is nie van koers af gegooi nie.”

4. Die Satan het die Here geantwoord: “Dit bewys niks nie. Hy leef reg voor U net omdat dit hom pas. ’n Mens sal enigiets prysgee as dit waarborg dat jy sal bly lewe.

5. Maar vat net sy gesondheid weg en hy sal U in u gesig slegsê!”

6. Die Here het vir Satan toegegee: “Nou maar maak dan met Job soos jy wil, maar op een voorwaarde: jy spaar sy lewe!”

7. Satan is toe daar weg. Hy het Job in die hande gekry en hom siek gemaak. Sy hele lyf, van sy kop tot sy tone, het vol sere geword.

8. Job het eenkant in die as gaan sit. Hy het ’n potskerf gevat en sy vel daarmee geskraap.

9. Sy vrou het met hom gepraat en gevra: “Bly jy nog steeds by wat jy glo reg is, Job? Hoekom vloek jy nie die Here en kry klaar en gaan dan dood nie.”

Job 2