Jesaja 65:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Ek was bereid om die gebede te verhoor van mense wat nog nie eens tot My gebid het nie. Ek was reg dat hulle My in die hande kon kry as hulle maar net na My wou soek. Ek sou vir ’n volk sê wat nie eens tot My wil bid nie: Hier is Ek!

2. Ek het die hele dag uitgereik na ’n volk wat net hulle eie kop wil volg. Hulle volg hulle eie verkeerde koers.

3. Hulle tart My sonder ophou uit. Hulle slag diere om in groen parke te offer. Hulle brand offers op plat rotse.

4. Hulle gaan bly tussen die grafte en slaap in grotte om die geeste te aanbid. Hulle eet moedswillig varkvleis. Daar is vleis wat vir die afgode geoffer word in hulle borde.

5. Hulle sê: “Bly weg van my af. Moenie aan my raak nie. Ek is soos ’n god vir jou.”Ek kan sulke mense nie verdra nie. Hulle irriteer My.

6. My besluit staan vas. Ek gaan dit nie uitstel nie. Ek gaan hulle straf. Ek gaan vir hulle gee wat hulle verdien.

7. Ek gaan hulle terugbetaal vir alles wat hulle gedoen het, sê die Here, vir al hulle en ook hulle ouers se oortredings. Hulle het bo-op die berge wierook gaan offer vir die gode. Hulle het My beledig met hulle afgodsoffers wat hulle bo-op die heuwels gebring het.

21-22. Hulle sal huise bou wat hulle nie hoef af te staan nie, maar waarin hulle self kan bly. Hulle sal wingerde aanplant waarvan hulle nog in hulle eie leeftyd druiwe kan pluk. Hulle sal so lank leef soos ’n boom. Hulle wat Ek vir My gekies het, sal nog die vrug kan geniet van dit wat hulle gemaak het.

Jesaja 65