Jesaja 5:18-28 Die Boodskap (DB)

18. Daar wag groot swaarkry op die mense wat hulle sonde saam met hulle rondsleep soos ’n mens ’n hond aan ’n leiband sal lei.

19. Hulle spot met die Here en sê: “Maak gou, doen iets! Wys ons wat Jy kan doen. Ons is nuuskierig om te sien wat die Heilige van Israel vir ons beplan.”

20. Dit sal swaar gaan met dié wat sê verkeerd is reg en reg is verkeerd, wat van die donker lig wil maak en van die lig donker. As iets bitter is, sê hulle dit is soet en as dit soet is, noem hulle dit bitter.

21. Dit sal swaar gaan met dié wat dink hulle is baie slim en kwansuis alles van alles af weet.

22. Met die helde van die drankbottels wat spog oor hoe goed hulle hulle drank kan vat, sal dit baie swaar gaan.

23. Ook met dié wat skuldige mense vryspreek omdat hulle geld het om hulle mee om te koop, maar onskuldige mense wat dit nie kan doen nie aan die pen laat ry.

24. Omdat hulle alles wat die Here die Almagtige hulle geleer het, verwerp en hulle nie aan die Heilige van Israel se woorde gesteur het nie, sal hulle met wortel en tak uitgeroei word, soos droë gras en hooi wat deur die vuur tot as verbrand word.

25. Daarom het die Here kwaad geword vir sy volk en besluit om hulle te straf. Wanneer dit gebeur, sal die berge bewe en die lyke sal soos vuilgoed in die strate lê. Maar selfs dit sal nie die Here se woede laat bedaar nie en Hy sal aanhou om hulle te straf.

26. Wanneer die Here vir die nasie wat ver bly ’n teken gee en vir hulle fluit om te kom, doen hulle dit sonder versuim.

27. Nie een van hulle word moeg of struikel nie. Hulle kom sonder rus of slaap. Ten spyte daarvan gaan nie een van hulle se belt eers los of breek iemand se sandaal nie.

28. Hulle pyle is vlymskerp en hulle boë is reeds gespan, reg om te skiet. Die vonke spat onder hulle perde se hoewe uit. Die wiele van hulle strydwaens draai soos ’n warrelwind.

Jesaja 5