2. Die Here het jou gemaak. Hy het jou nog altyd gehelp vandat Hy jou in die lewe gebring het. Hy sê vir jou: Jy moenie bang wees nie, Jakob. My liewe Jesurun wat Ek gekies het om aan My te behoort, jy hoef nie te vrees nie.
3. Ek sal water gee in die plekke waar dit baie droog is. Daar sal waterstrome loop waar die grond uitgedroog is. Ek sal my Gees in jou kinders laat kom. Ek sal krag gee vir jou nageslag.
4. Hulle sal wees soos gras wat uitloop, soos wilgerbome wat langs die water staan.
5. Die een sal sê: “Ek behoort aan die Here.”Die ander sal sê: “Ek is ’n afstammeling van Jakob.”Nog ’n ander een sal op sy hand skryf: “Die Here s’n.” En ’n ander een sal homself ’n Israeliet noem.
6. Die Here is Israel se koning. Die Here wat die hemelse leërmag aanvoer, sal Israel bevry. Hy sê: Ek is God van ewigheid af tot in ewigheid. Daar is nie ’n ander God behalwe Ek nie.
7. As iemand dink dat hy soos Ek is, moet hy dit sê. Hy moet dit kom bewys. Hy moet kom sê wat in die verlede met my volk gebeur het. Hy moet ook sê wat nog alles met hulle gaan gebeur.
8. Moenie skrik nie. Hou op om bang te wees. Ek het mos lankal al vir julle gesê wat gaan gebeur. Julle is my getuies: daar is net eenvoudig geen ander god behalwe Ek nie. Ek weet van niemand anders op wie julle kan vertrou nie.
9. Dié wat afgodsbeelde maak, is niks werd nie. Hulle gunstelinggode bring vir hulle geen voordeel nie. Dié wat hulle gode verdedig, is blind en onnosel. Hulle gaan nog baie skaam kry.
10. Wie is dan so dom om ’n afgodsbeeld te maak wat vir jou niks bring nie?
11. Elkeen wat afgodsbeelde maak, gaan maar sleg daarvan afkom. Dit is goed wat deur mense gemaak is. As hulle bymekaarkom en voor die beelde kom staan, gaan hulle geskok wees en skaam kry vir wat hulle doen.
12. Die smid werk met sy gereedskap en bewerk die yster in die vuur. Hy vorm die beeld met sy hamer op die aambeeld. Met sy gespierde arm slaan hy dit in die vorm wat hy dit wil hê. Maar hy is ook maar net ’n mens. Hy word ook maar honger en moeg. As hy nie water drink nie, raak hy ook maar uitgeput.
13. Die kunstenaar wat met hout werk, meet ’n stuk hout af en merk die buitelyne daarop uit met ’n potlood en ’n passer. Hy gebruik sy beitel en kerf uit die hout iets wat soos ’n mens lyk. Dit word ’n pragtige beeld wat lyk soos ’n mens wat in ’n huis woon.
14. Die hout wat hy gebruik, kom van ’n sederboom wat hy afgekap het. Hy kon ook ’n sipresboom of eikeboom gevat het. Hy laat vir hom bome in die bos grootword. Hy plant hulle en wag dat die reën hulle grootmaak.
15. Wanneer hy dit afkap, gebruik die mens die hout om vuur te maak. Hy maak homself daarmee warm, of hy gebruik dit vir die vuur waarmee hy brood bak. Maar hy gebruik van dieselfde hout om vir hom ’n god te maak waarvoor hy buig. Hy maak daarvan ’n afgodsbeeld en dan gaan buig hy in aanbidding voor die beeld.