Jesaja 43:20-25 Die Boodskap (DB)

20. Die jakkalse en die volstruise, al die wilde diere in die veld sal daarvoor vir My kom dankie sê. Ek het water in die woestyn gegee vir hulle om te drink. Ek het riviere deur eensame gedeeltes laat loop sodat die volk wat Ek vir My gekies het, daaruit kan drink.

21. Hulle is die volk wat Ek vir My bymekaargemaak het om My te loof en te prys.

22. Maar jy het nooit tot My gebid nie, Jakob. Jy was nie bereid om moeite vir My te doen nie, Israel.

23. Jy het nie vee gebring om vir My te slag nie. Jy het nie offers gebring om My te kom vereer nie. Ek het nie daarop aangedring dat jy offers sal kom slag om saam met My te eet nie. Ek het jou nie forseer om wierookoffers vir My te bring nie.

24. Jy het nooit lekkerruikoffers vir My gekoop of My bly gemaak met die vet van jou diere wat jy vir My geslag het nie. Om die waarheid te sê, jy het al jou verkeerde dinge op My kom aflaai. Jy het My moeg gemaak met jou oortredings.

25. Maar Ek is die Een wat jou oortredings afskryf omdat dit is soos Ek is. Ek dink nie verder aan alles wat jy verkeerd gedoen het nie.

Jesaja 43