Jesaja 43:18-27 Die Boodskap (DB)

18. Die Here sê: Moenie vassteek by die verlede nie. Moenie net dink aan die dinge wat verby is nie.

19. Let op! Ek gaan iets nuuts laat gebeur. Dit het alreeds begin. Kom julle dit nie agter nie?Ek maak deur die woestyn ’n pad vir my volk om terug te kom. Ek laat riviere deur verlate plekke loop.

20. Die jakkalse en die volstruise, al die wilde diere in die veld sal daarvoor vir My kom dankie sê. Ek het water in die woestyn gegee vir hulle om te drink. Ek het riviere deur eensame gedeeltes laat loop sodat die volk wat Ek vir My gekies het, daaruit kan drink.

21. Hulle is die volk wat Ek vir My bymekaargemaak het om My te loof en te prys.

22. Maar jy het nooit tot My gebid nie, Jakob. Jy was nie bereid om moeite vir My te doen nie, Israel.

23. Jy het nie vee gebring om vir My te slag nie. Jy het nie offers gebring om My te kom vereer nie. Ek het nie daarop aangedring dat jy offers sal kom slag om saam met My te eet nie. Ek het jou nie forseer om wierookoffers vir My te bring nie.

24. Jy het nooit lekkerruikoffers vir My gekoop of My bly gemaak met die vet van jou diere wat jy vir My geslag het nie. Om die waarheid te sê, jy het al jou verkeerde dinge op My kom aflaai. Jy het My moeg gemaak met jou oortredings.

25. Maar Ek is die Een wat jou oortredings afskryf omdat dit is soos Ek is. Ek dink nie verder aan alles wat jy verkeerd gedoen het nie.

26. Kom ons gaan saam na die hof toe om ons saak daar te laat verhoor. Kom stel jou saak dat ons kan sien of jy reg is.

27. Jou voorouers het oortree. Jou leiers was in opstand teen My.

Jesaja 43