Jesaja 42:15-25 Die Boodskap (DB)

15. Ek sal droogte op die berge en heuwels laat kom. Ek sal die plante laat doodgaan wat daarop groei. Ek sal die riviere in stilstaande poele verander. Die riete in die vleie sal doodgaan.

16. Ek sal die blinde Israel op ’n pad laat loop wat hy glad nie ken nie. Hy sal op paaie loop waarvan hy glad nie eers geweet het nie. Ek laat die donkerte voor hulle in lig verander. Ek verander die pad wat vol slaggate is in ’n gladde pad. Ek gaan dit doen. Ek sal hulle nie in die steek laat nie.

17. Aan die ander kant sal die mense wat op afgode staatmaak en vir afgodsbeelde sê: “Julle is ons god” op hulle neus kyk. Hulle gaan sleg daarvan afkom.

18. Julle wat julle so doof hou en maak of julle blind is, moet nou ’n bietjie aandag gee.

19. Die volk wat My moet dien, het mos oë wat nie wil sien nie. Die boodskapper wat Ek stuur, het mos ore wat glad nie wil hoor nie. Wie is so blind soos die volk van die Here?

20. Julle het so baie dinge gesien, maar dit het geen indruk op julle gemaak nie. Julle luister, maar julle hoor eintlik niks.

21. Die Here het uitdruklik gesê hoe belangrik sy wet is. Hy wil graag hê dat daar geregtigheid onder mense moet wees.

22. Maar sy volk is beroof en kaal gesteel. Hulle sit almal in gate en in tronke opgesluit. Toe daar op hulle toegeslaan is, was daar niemand om hulle te red nie. Toe hulle gevange geneem is, kon niemand dit keer nie.

23. Wie van julle het werklik gehoor wat hier gebeur het? Wie het fyn genoeg geluister om te verstaan wat dit vir die toekoms beteken?

24. Wie het Jakob uitgelewer aan die mense wat hom beroof het? Was dit nie die Here self wat dit gedoen het nie? Ons het teen Hom oortree. Israel wou nie leef soos die Here van hulle gevra het nie. Hulle wou nie luister na wat die Here gesê het hulle moet doen nie.

25. Die Here het sy woede soos vuur teen hulle laat vlam vat. Hy het hulle in die oorlog laat beland. Selfs toe dit rondom hulle gebrand het, het hulle dit nie verstaan nie. Hulle het nie besef hoe ernstig dit was nie.

Jesaja 42