Jesaja 41:9-20 Die Boodskap (DB)

9. Ek het jou gaan haal by die heel verste plekke op die wêreld. Ek het jou laat kom van die uithoeke van die aarde af. Ek het vir jou gesê: “Kom bid tot My.” Ek het jou vir My uitgekies. Ek sal jou nooit in die steek laat nie.

10. Ek is by jou. Jy hoef nie bekommerd te wees nie. Ek is jou God. Jy hoef nie bang te wees nie. Ek sal jou help. Ek sal jou sterk maak. Ek sal jou met my krag beskerm.

11. Al jou vyande wat so kwaad was vir jou gaan maar sleg daarvan afkom. Almal wat met jou baklei het, sal verdwyn.

12. Jy sal verniet soek na die mense wat met jou rusie gemaak het. Die mense wat teen jou oorlog gemaak het, sal wegraak asof daar nooit sulke mense was nie.

13. Ek is mos die Here jou God. Ek sal jou hande sterk maak. Ek sê vir jou: Hou nou op om bang te wees. Ek self help jou dan.

14. Al is jy klein, Israel, en al voel jy soos ’n wurmpie, Ek sal jou help, sê die Here. Die groot God self gaan jou red, Israel.

15. Ek maak jou soos ’n masjien waarmee ’n mens graan dors, wat nuwe, skerp lemme gekry het. Jy sal selfs berge kan dors en hulle fynmaal. Jy sal heuwels aan flarde kan sny soos graanstoppels.

16. Jy sal hulle uitstrooi in die lug en die wind sal hulle wegwaai. ’n Windstorm sal hulle oor die aarde verstrooi. Dan sal jy sing van blydskap oor die Here. Jy sal die hoë God van Israel loof en prys.

17. Wanneer Israel soos hulpelose mense verniet na water soek, wanneer hulle wil doodgaan van die dors, sal Ek, die Here, hulle gebede verhoor. Die God van Israel sal nie sy volk in die steek laat nie.

18. Ek sal riviere tussen die droë berge deur laat loop. Ek sal fonteine onder in die laagtes laat uitborrel. Ek sal waterpanne in die woestynwêreld gee. Daar sal waterstrome deur droë gebiede vloei.

19. Ek sal sederbome in die woestyn laat groei. Daar sal akasias, mirtebome en olyfbome staan. Waar dit heeltemal droog is, sal Ek sipresse, plataanbome en dennebome plant.

20. Dan sal almal sien wat gebeur het. Hulle sal insien en erken dat dit die Here is wat die wonderwerk laat gebeur het. Die hoë God van Israel het die onmoontlike reggekry.

Jesaja 41