Jesaja 30:15-23 Die Boodskap (DB)

15. Maar die Here, die heilige Regeerder van Israel, sê: “Slegs as julle julle bekeer en julle vertroue in My stel en rustig op My wag, sal julle gered word. Julle krag lê daarin dat julle stil op My vertrou.” Maar daarvan wou julle niks weet nie.

16. “Nee wat,” het julle gesê, “Egipte sal ons help. Hulle sal vir ons vinnige perde gee waarmee ons kan wegjaag.” Dit is waar: julle sal moet wegjaag met julle vinnige perde, want julle vyande sal nog vinniger perde hê.

17. Een van hulle soldate sal duisend van julle op die vlug laat slaan. Net vyf van hulle is genoeg om julle almal te laat weghardloop. Daar sal nie veel van julle leër oorbly nie, en die klompie wat wel oorbly, sal so verlate wees soos ’n enkele vlagpaal wat bo-op ’n berg staan.

18. En tog wag die Here nog altyd vir ’n kans om julle te wys hoe goed Hy vir julle is. Hy is reg om enige oomblik in te gryp omdat Hy julle jammer kry, want die Here is ’n God wat reg laat geskied. Dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.

19. Luister, mense van Sion, julle wat in Jerusalem woon, julle hoef nie meer te huil nie. Die Here sal julle help as Hy hoor julle roep na Hom en vra vir sy hulp. Hy sal julle gebede verhoor die oomblik wat Hy dit hoor.

20. Al het die Here vir julle verdrukking vir kos en swaarkry vir water gegee, sal julle sien dat Hy nog steeds bereid is om julle te leer.

21. Wanneer julle die pad byster raak, sal julle sy stem agter julle hoor sê: “Hier is die regte pad, loop hierlangs.”

22. Dan sal julle van al julle vuil goue en silwer afgode ontslae raak. Julle sal hulle soos ou, vuil lappe weggooi en sê: “Sies, ons wil die goed nie weer sien nie!”

23. Dan sal die Here julle in die planttyd met genoeg reën seën sodat julle wonderlike oeste sal hê. Daar sal volop weiding vir julle vee wees.

Jesaja 30