Jeremia 30:11-15 Die Boodskap (DB)

11. Wees gerus, Ek sal julle nie in die steek laat nie. Ek sal julle uit die hande van julle vyande red. Julle is oral versprei onder die nasies. Hulle sal Ek vernietig, maar julle sal nie vernietig word nie. Maar hoewel Ek julle nie sal vernietig nie, gaan Ek julle nogtans straf. Ek sal julle ’n regverdige straf gee.”

12. Die Here sê ook: “Julle toestand is soos ’n wond wat nie gesond kan word nie. ’n Mens kan maar net daaroor huil.

13. Daar is niemand wat julle kan help nie. Daar is ook nie medisyne vir julle wonde nie. Verder is daar geen hoop dat julle gesond sal word nie.

14. Al die mense met wie julle ooreenkomste aangegaan het om julle te help, het julle in die steek gelaat. Hulle gee nie om wat van julle word nie. Ek het julle aangeval soos ’n mens met ’n vyand sou maak. Ek het julle sonder enige genade gestraf. Julle het baie verkeerde dinge gedoen. Julle is aan soveel goed skuldig, dit is te veel om op te noem.

15. Waarom roep julle so hard uit oor julle seerkry? Niks kan die pyn laat verdwyn nie. Ek straf julle omdat julle so baie dinge verkeerd gedoen het. Julle is deur en deur skuldig.

Jeremia 30