Hosea 14:4-8 Die Boodskap (DB)

4. Assirië kan ons nie red nie. Ons kan nie op ons weermag en ons wapens vertrou nie. Ons kan nooit weer vir die gode wat ons met ons eie hande gemaak het, sê ‘My god’ nie. ’n Kind wat niemand het om vir hom te sorg nie, kan maar net by U die liefde en die versorging kry wat hy nodig het.”

5. Die Here sê: “Ek sal die siekte wat jy gehad het, gesond maak. Ek sal genesing bring. Jy sal nie weer wil wegloop van My af nie. Ek sal jou vreeslik liefhê. Ek sal glad nie meer vir jou kwaad wees nie.

6. “Ek sal vir Israel wees soos die dou wat ’n lelie laat blom. Sy wortels sal hom so stewig anker soos die bome teen die Libanonberg geanker is.

7. Sy takke sal so welig uitgroei soos die takke van ’n mooi olyfboom. Hy sal so lekker ruik soos die plante teen die Libanonberg.

8. Hulle sal weer onder die skaduwee van my takke kom bly. Hulle sal vooruitgaan soos graan wat op die land staan en wieg in die wind. Hulle sal uitloop en groei soos wingerdranke. Hulle sal weer ’n goeie naam hê soos die beroemde naam van die Libanonwyn.

Hosea 14