Hebreërs 11:8-12 Die Boodskap (DB)

8. God het vir Abraham gesê dat hy sy goed moet vat en na ’n ver plek moet trek wat God dan vir hom as ’n blyplek sou gee. Abraham het glad nie geweet waar dit was nie, maar het gehoorsaam sy goed gevat en gegaan.

9. En die rede: hy het God heeltemal vertrou. Juis daarom het hy sy tent gaan opslaan in daardie land wat God vir hom beloof het, al is hy eers soos ’n vreemdeling daar behandel. Isak en Jakob, vir wie God ook die land beloof het, het daar saam met hom in tente gebly.

10. Abraham het die hele tyd uitgesien na die stad wat op fondamente gebou sou word, die stad wat God self sou ontwerp en bou.

11. Abraham was al baie oud en hy en sy vrou Sara kon nie kinders hê nie. Tog het Abraham op die Here vertrou en pa geword. Hy het geglo dat God die belofte wat Hy gemaak het, nie sou breek nie.

12. En kyk net na die gevolge: uit een man, wat eintlik self nie meer kinders kon hê nie, het daar ’n nageslag gekom wat ’n mens vandag nie meer kan tel nie. Hulle is so baie soos die sterre aan die hemel of die sandkorrels op die strand.

Hebreërs 11