Handelinge 7:22-32 Die Boodskap (DB)

22. Moses is streng volgens die Egiptiese gebruike grootgemaak. Hy het die beste onderrig ontvang wat daar in Egipte te kry was. Hy was baie slim en het uitgeblink as iemand wat sy kop en sy hande goed kon gebruik.

23. “Toe Moses sowat 40 jaar oud was, het hy op ’n dag besluit om besoek af te lê by sy eie mense, die Israeliete.

24. Daar het hy gesien hoe ’n Egiptenaar een van hulle slaan. Dit het hom so kwaad gemaak dat hy die man op die plek doodgemaak het.

25. Moses het gedink dat sy volksgenote sou besef dat hy aan hulle kant was, maar hy het hom lelik misgis.

26. Die volgende dag toe hy weer daar opdaag, het hy op twee Israeliete afgekom wat met mekaar baklei. Hy het vrede tussen hulle probeer maak. ‘Julle is dan broers. Vir wat slaan julle mekaar so?’ het hy hulle gevra.

27. “Die een wat die bakleiery begin het, het Moses weggestamp en gesê: ‘Jy’s ’n mooi een om te praat! Wie het jou as skeidsregter oor ons aangestel? Jy kom speel hier baas terwyl jy self gister ’n Egiptenaar doodgemaak het.

28. Gaan jy my nou ook doodmaak?’

29. “Moses het groot geskrik toe hy hoor wat die man sê. Hy het besef dat almal binnekort sou weet wat hy met die Egiptenaar gedoen het. Daarom het hy toe uit Egipte padgegee en as ’n vreemdeling in die land Midian gaan bly. Daar het hy getrou en die pa van twee seuns geword.”

30. “Veertig jaar later, terwyl Moses in die woestyn by die berg Sinai was, het ’n engel van die Here in ’n brandende doringbos aan hom verskyn.

31. Moses kon sy oë nie glo toe hy dit sien nie. Hy het nader gestap om mooi te sien wat aangaan. Toe praat die Here skielik uit die brandende bos:

32. ‘Ek is die God van jou voorvaders. Ek is die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Toe Moses dit hoor, het hy geskrik en sy oë styf toegeknyp. Hy was te bang om na God te kyk.

Handelinge 7