Handelinge 3:11-24 Die Boodskap (DB)

11. Toe die mense ook nog sien hoe die man sy arms om Petrus en Johannes gooi, het hulle almal begin stroom na die Pilaargang van Salomo, waar Petrus-hulle gestaan het.

12. Petrus het toe met die groot skare begin praat wat om hulle saamgedrom het: “Vriende, volksgenote, hoekom is julle so verbaas oor wat so pas gebeur het? Dink julle dalk dat ons hierdie man uit ons eie krag gesond gemaak het? Het dit gebeur omdat ons so godsdienstig is?

13. Natuurlik nie. Al wat gebeur het, is dat die God van Abraham en Isak en Jakob vir Jesus, sy eie Seun, op hierdie manier eer kom aandoen het. Hy het hier voor julle almal kom wys hoe groot en sterk Jesus regtig is.

14. “Onthou julle nog hoe julle nou die dag vir Jesus soos ’n misdadiger aan Pilatus uitgelewer het? Julle het julle rug vir Hom gedraai toe Pilatus julle die keuse gegee het om Hom los te laat. Julle het selfs gevra dat ’n moordenaar losgelaat word eerder as Hy.

15. So het julle Hom wat aan julle die ware lewe kan gee, gaan staan en doodmaak. Maar gelukkig het God Jesus weer lewendig gemaak. Ons het dit met ons eie oë gesien.

16. “Wel, Jesus het nou deur ons hierdie verlamde man gesond gemaak. Julle almal kan dit tog sien. Sy geloof in Jesus was genoeg om hom te laat opstaan en loop.”

17. “Vriende, ek weet dat julle en julle leiers glad nie besef het waarmee julle besig was toe julle Jesus doodgemaak het nie.

18. Tog het God lankal deur sy boodskappers gesê dat die Messias sou kom ly. Daarom het Hy julle onkunde gebruik om hulle woorde waar te laat word.

19. “Nou moet julle julle sondes laat staan. Kom terug na God toe. Hy sal al julle sondes wat tussen julle en Hom staan, uit die pad vat. Hy sal nooit weer daaraan dink nie.

20. “God se feestyd sal dan in julle lewe aanbreek. Hy gaan vir Jesus Christus binnekort na julle toe terugstuur.

21. Totdat dit gebeur, bly Hy in sy hemelse woonplek. Dit is hoekom julle Hom nie nou kan sien nie. Maar Jesus sal sekerlik terugkom om alles hier op aarde nuut te maak. Dit het God lank gelede deur sy profete belowe.

22. Moses het al vir julle gesê:‘God sal binnekort uit julle midde ’n profeet soos ek op die toneel laat verskyn. Julle moet na hom luister.

23. Doen alles wat hy vir julle sê! Elkeen wat nie na hom luister nie, sal doodgemaak word. Hulle sal nie meer deel wees van God se volk nie.’

24. “Al die ander profete daar van Samuel se tyd af het presies dieselfde gesê.

Handelinge 3