23. “Gisteraand het ’n engel van die God wat ek dien aan my verskyn en gesê:
24. ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. Daarom sal God sorg dat jy lewend daar aankom. God het ook besluit om die lewe van almal saam met jou op die skip te spaar.’
25. “Hou daarom moed, vriende. Ek glo dat alles presies net so sal gebeur soos God gesê het.
26. “Ons gaan binnekort op ’n eiland strand.”
27. Teen middernag op die veertiende dag dat ons deur die storm op die see rondgeslinger is, het die matrose agtergekom dat ons naby land kom. Hulle het twee keer kort na mekaar met ’n dieplood die water se diepte gemeet.
28. Met die eerste meting was die water 30 meter diep. Met die tweede was dit 27 meter diep.
29. Omdat hulle bang was dat die skip op die rotse sou loop, het hulle gou vier ankers aan die agterkant van die skip uitgegooi. Toe het almal begin wag op die dagbreek.
30. ’n Paar matrose het besluit om stilletjies met die reddingsbootjie weg te kom. Hulle het die bootjie in die water laat sak en voorgegee dat hulle nog ankers in die water wou gaan uitsit.
31. Paulus het dadelik agtergekom waarmee hulle besig was en vir die Romeinse offisier en sy soldate gesê: “As hierdie mense nie aan boord bly nie, gaan ons dit nie oorleef nie.” Dié keer het die Romeinse offisier na Paulus geluister.
32. Hy het dadelik sy soldate beveel om al die toue wat die reddingsbootjie aan die skip vasgehou het, af te kap. Die bootjie het weggedryf.
33. Toe dit dag begin word, het Paulus almal aangemoedig om te eet. “Dit is nou die veertiende dag dat ons sonder kos klaarkom,” het hy gesê.
34. “Maar nou moet julle almal iets eet. Ons het krag nodig vir die laaste entjie land toe wat nog vir ons voorlê. “Moenie bekommerd wees nie. Nie een van julle sal iets oorkom nie. Daar sal nie eens ’n haartjie uit julle kop val nie.”