Handelinge 11:6-21 Die Boodskap (DB)

6. Binne-in was allerhande soorte diere en ook ’n klomp reptiele en voëls.

7. Ek hoor toe ’n stem wat vir my sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet!’

8. “‘Oor my dooie liggaam. Ek sal dit nooit doen nie, Here,’ het ek geantwoord. ‘Ek het nog nooit iets geëet wat in Moses se wet as onrein beskou word nie. Ons Jode eet nie sulke kos nie.’

9. “Die stem het ’n tweede keer uit die hemel met my gepraat en gesê: ‘As God sê dat jy iets kan eet, mag jy dit maar doen. Dan mag jy nie sê dit is onrein nie.’

10. “Dit het drie maal gebeur. Toe is die laken weer teruggevat in die hemel in.

11. “Op daardie oomblik het daar drie mans opgedaag by die huis waar ek gebly het. Hulle is uit Sesarea gestuur om my te kom haal.

12. Die Heilige Gees het toe vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan. Ek en hierdie ses broers by my is toe na Kornelius se huis in Sesarea.

13. Daar het hy ons vertel hoe ’n engel aan hom verskyn het. Die engel het vir hom gesê: ‘Stuur mense Joppe toe en laat haal vir Petrus.

14. Hy sal vir jou sê hoe jy en jou huisgesin in die regte verhouding met God kan kom.’

15. “Ek het skaars met hulle oor die Here begin praat, toe kom die Heilige Gees oor hulle almal. Dit was net soos op pinksterdag toe die Heilige Gees oor ons hier in Jerusalem gekom het.

16. “Hierdie gebeurtenis in Kornelius se huis het my laat dink aan die woorde van ons Here Jesus. Onthou julle hoe Hy vroeër vir ons gesê het: ‘Johannes doop julle wel met water, maar julle sal een van die dae met die Heilige Gees gedoop word’?

17. “Nou vra ek julle: Wie is ek dan om in God se pad te staan? Hy het dieselfde hemelse Geskenk aan mense gegee wat nie Jode is nie as aan ons Jode wat in Jesus Christus glo. Hy is nou die Here oor ons almal se lewe.”

18. Toe die gemeentelede dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God se Naam geprys en gesê: “’n Wonderwerk het gebeur! God se goedheid het nou ook by mense buite ons eie volksgrense uitgekom. Hy gee nou ook nuwe lewe aan hulle wanneer hulle tot bekering kom.”

19. As gevolg van die vervolging van die kerk in Jerusalem net na Stefanus se dood het party gelowiges na plekke soos Fenisië, Siprus en Antiogië gevlug. Hulle het die Woord van die Here daar met ander Jode gaan deel.

20. Sekere gelowiges wat uit Siprus en Sirene gekom het, het egter daar in die stad Antiogië begin om met mense wat nie Jode was nie oor die Here Jesus te praat.

21. Die Here se groot krag het deur hierdie gelowiges gewerk sodat ’n groot groep mense in ’n kort tydjie tot bekering gekom het. Hulle het hulle sondes laat staan en volgelinge van Jesus geword.

Handelinge 11