Handelinge 11:20-30 Die Boodskap (DB)

20. Sekere gelowiges wat uit Siprus en Sirene gekom het, het egter daar in die stad Antiogië begin om met mense wat nie Jode was nie oor die Here Jesus te praat.

21. Die Here se groot krag het deur hierdie gelowiges gewerk sodat ’n groot groep mense in ’n kort tydjie tot bekering gekom het. Hulle het hulle sondes laat staan en volgelinge van Jesus geword.

22. Toe hierdie nuus die Jerusalemgemeente bereik, het hulle vir Barnabas na Antiogië toe gestuur om te kyk of die nuwe gelowiges darem doen wat God vra.

23. Hy was aangenaam verras toe hy daar aankom en sien wat God besig was om in hulle lewe te doen. Barnabas het hulle opgewonde aangespoor om die Here met alles in hulle te dien en aan Hom getrou te bly.

24. Barnabas was ’n goeie man met ’n sterk geloof in God. Almal kon sien dat die Heilige Gees se groot krag deur hom gewerk het. Hy het besluit om in Antiogië te bly en die gelowiges te help om die goeie nuus daar uit te dra. Baie mense het as gevolg van sy werk begin glo.

25. Na ’n ruk het Barnabas besluit om Saulus te gaan opsoek en hom te oorreed om in Antiogië te kom werk.

26. Hy is na Tarsus toe, waar hy vir Paulus raakgeloop het. Paulus was dadelik bereid om saam met hom in Antiogië te kom werk. Hulle twee het die volgende jaar lank daar saamgewerk. Hulle het die mense geleer wat dit beteken om in Christus te glo. Hier in Antiogië is die volgelinge van Jesus die eerste maal Christene genoem.

27. In dié tyd het ’n paar boodskappers van die Here uit Jerusalem na Antiogië gekom.

28. Een van hulle, ’n man met die naam Agabus, is deur die Heilige Gees gelei om vir hulle te sê dat ’n groot hongersnood binnekort die hele wêreld sou tref. Dit het dan ook gebeur in die tyd toe Claudius die keiser van die Romeinse Ryk was.

29. Die volgelinge van Jesus in Antiogië het besluit om die gelowiges in Judea te help.

30. Hulle het elke bietjie geld wat hulle kon afknyp vir hulle broers en susters in die Here in Jerusalem opsy gesit. Toe het hulle vir Barnabas en Saulus met al die geld na Jerusalem toe gestuur. Daar het hulle twee dit vir die leiers van die kerk gegee.

Handelinge 11