13. U is so volmaak dat dit onmoontlik is om te dink dat U sulke verkeerde dinge sal sien gebeur en dit doodgewoon sal aanvaar. Hoe is dit dan moontlik dat U sien wat hierdie boosdoeners aanvang en stilbly daaroor? Hulle wis mense uit wat beter as hulle leef.
14. Hoe kan U mense so sonder beskerming los soos visse in die see wat enigeen sommer kan vang of soos ’n swerm insekte wat nie ’n leier het nie?
15. Visse word met ’n hoek gevang of in nette bymekaargemaak en weggesleep. Die Babiloniërs werk net so gevoelloos met mense en dan is hulle baie in hulle skik met wat hulle regkry.
16. Hulle maak soos vissers wat hulle nette en hengelgereedskap aanbid asof dit gode is. Hulle bring vir die gereedskap offers en brand wierook omdat dit hulle ryk maak en sorg vir ’n oorvloed kos.
17. Here, gaan U toelaat dat hierdie vyand vir altyd so aanhou om genadeloos met volke te werk en hulle dood te maak?