Esra 7:8-25 Die Boodskap (DB)

8. Hulle het in Jerusalem aangekom in die vyfde maand van dieselfde jaar.

9. Esra het voor die tyd al besluit dat hulle reis na Jerusalem op die eerste van die eerste maand moet begin. God het hom beskerm. Vier maande later het hulle op die eerste van die vyfde maand in Jerusalem aangekom.

10. God was by hom omdat hy met hart en siel die wette van die Here bestudeer het om daarvolgens te lewe. Hy wou graag in Israel ’n leermeester van die reëls en regulasies van die Here wees.

11. Die brief wat koning Artasasta vir Esra, die priester en geleerde in die wet van die Here, gegee het om hom toestemming te gee om Jerusalem toe te gaan, was in Aramees geskryf. Daarin het gestaan:

12. Geteken deur Artasasta, die groot koning, gegee vir Esra, die priester en amptenaar van die wet van die God van die hemel.

13. Ek gee toestemming dat enigeen in my koninkryk uit die volk van die Israeliete of van hulle priesters of hulle Leviete wat graag wil teruggaan Jerusalem toe, vry is om saam met jou te gaan.

14. Die koning en sy raadgewers stuur jou amptelik om in Juda en Jerusalem te gaan ondersoek instel hoe die wet van jou God gebruik word. Jy is tog die kenner van daardie wet.

15. Jy moet die goud en silwer saamvat wat die koning en sy raadgewers skenk aan die God van die Israeliete wat daar in Jerusalem sy tempel het.

16. Jy moet ook al die geld wat jy by mense in die provinsie van Babel kan insamel, saam met jou vat. Ook die geskenke van die volk en van die priesters vir die tempel van God in Jerusalem moet saam met jou gaan.

17. Jy moet versigtig met hierdie geld werk. Koop die bulle, ramme en lammers, en alles wat nodig is vir die offers wat julle bring. Koop ook wat nodig is vir die ander offers waarvan julle ’n deel daar by die tempel mag eet en drink. Gaan offer dit alles op die altaar in julle God se tempel in Jerusalem.

18. Met die goud en silwer wat daarna oor is, kan jy en jou volk maak soos julle dink dit die wil van julle God is.

19. Alles wat vir jou gegee is wat spesifiek vir die tempel van jou God bedoel was, moet jy presies net so vir jou God in Jerusalem gaan gee.

20. As daar nog iets verder vir die huis van God nodig is, mag jy dit op die rekening van die staat koop.

21. Ek, koning Artasasta, het aan al die amptenare in Wes-Eufraat wat met die ryk se geld werk, opdrag gegee om aan Esra, die priester en kenner van die wet van die God van die hemel, te gee wat hy vra.

22. Hy mag tot 3 500 kilogram silwer, 10 000 kilogram graan, 2 000 liter wyn, 2 000 liter olyfolie en ’n onbeperkte hoeveelheid sout aanvra.

23. Alles wat die God van die hemel vir sy huis wil hê, moet presies gegee word, sodat Hy nie dalk kwaad word vir die koning en sy seuns nie.

24. Ek het ook besluit dat geen priester of Leviet of tempelsanger of poortwagter of tempelwerker of enige ander een wat by die tempel werk, enige belasting aan die staat hoef te betaal nie.

25. Esra, jy moet die wysheid gebruik wat jou God jou gee om amptenare en regters in die Wes-Eufraat aan te stel vir almal wat voor die wette van jou God buig. Jy moet die wet leer vir dié wat dit nie ken nie.

Esra 7