19. Alles wat vir jou gegee is wat spesifiek vir die tempel van jou God bedoel was, moet jy presies net so vir jou God in Jerusalem gaan gee.
20. As daar nog iets verder vir die huis van God nodig is, mag jy dit op die rekening van die staat koop.
21. Ek, koning Artasasta, het aan al die amptenare in Wes-Eufraat wat met die ryk se geld werk, opdrag gegee om aan Esra, die priester en kenner van die wet van die God van die hemel, te gee wat hy vra.
22. Hy mag tot 3 500 kilogram silwer, 10 000 kilogram graan, 2 000 liter wyn, 2 000 liter olyfolie en ’n onbeperkte hoeveelheid sout aanvra.
23. Alles wat die God van die hemel vir sy huis wil hê, moet presies gegee word, sodat Hy nie dalk kwaad word vir die koning en sy seuns nie.
24. Ek het ook besluit dat geen priester of Leviet of tempelsanger of poortwagter of tempelwerker of enige ander een wat by die tempel werk, enige belasting aan die staat hoef te betaal nie.
25. Esra, jy moet die wysheid gebruik wat jou God jou gee om amptenare en regters in die Wes-Eufraat aan te stel vir almal wat voor die wette van jou God buig. Jy moet die wet leer vir dié wat dit nie ken nie.
26. Jy moet hulle straf wat die wette van jou God of die wette van die staat oortree. Straf daardie persoon met die dood of stuur hom weg of beboet hom of laat hom in die tronk opsluit.
27. Esra het toe gesê: “Ek maak die Here se Naam groot. Hy is die God van my voorouers. Hy het die koning gewillig gemaak om al hierdie dinge vir die tempel van die Here in Jerusalem te doen.
28. Die Here het gemaak dat die koning, sy raadgewers en al sy belangrike amptenare my goedgesind is. Ek het moed geskep omdat ek kan sien dat die Here my God my beskerm. Ek het van die leiers uit die Israeliete na my toe laat kom om saam met my na Jerusalem toe terug te gaan.”